Tel jou seëninge
As die lewenstorme woedend om jou slaan,
En jy gans ontmoedig vrees om te vergaan;
Tel jou seëninge, tel hul een vir een,
En jy sal verbaas wees oor wat God verleen.
Koor:
Tel jou seëninge, een vir een,
Seëninge jou deur God geskenk!
Tel hul almal, kyk wat God verleenv
En jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk!
As jy ooit gebuk gaan onder sorg en pyn,
As die kruis te swaar word en jou krag te klein;
Tel jou seëninge, dan vlug twyfel heen,
En jy sien Gods goedheid laat jou nooit alleen!
As jy let op ander met hul goud en eer,
Dink dan God beloof jou nog oneindig meer;
Tel jou seëninge, weet dat prag en praal
Nooit die minste van die hemel kan behaal.
Laat dan al die stryd, die las, die bange nood
Jou tog nie ontmoedig, Gods trou dis so groot;
Tel jou seëninge; eng’le staan jou by,
Bied jou hulp en leiding na die ander sy!