Genade Onbeskyflik Groot
Genade onbeskryflik groot
het U aan my bewys;
verlore seun, ’n wegloopkind,
weer in die vaderhuis!
Ek is die naam van kind nie werd,
wou self my sake reël.
My lewe, kanse, tyd en geld
is nutteloos verspeel.
Maar U sien ver, oneindig ver,
U sien my honger, dors.
Want toe ek kom, my skuld bely,
druk U my aan die bors.
Genade onbeskryflik groot:
daar’s fees, ek is weer tuis!
U Seun bring my – verlore mens –
weer in die Vaderhuis.
En jy, ou maat, daar eenkant weg?
Lyk of jy honger ly.
Kom na die Vader; kom maak reg.
Genade maak weer vry.